Somer is die perfekte tyd om van jou slegte wintergewoontes ontslae te raak en dit met goeie, gesonde gewoontes te vervang. ’n Maklike eerste tree in die regte rigting is om organiese produkte te kies. Maar wat beteken organies en hoe kan jy dit in jou daaglikse lewe inkorporeer?

Wat beteken ‘organies’?

Organiese voedsel word op plase geproduseer wat die gebruik van kunsmatige kunsmisstowwe, onkruiddoders en plaagdoders vermy en die natuur se natuurlike prosesse en ekosisteem ondersteun.

Wat maak Stellar Winery se wyn organies?

Stellar Winery se reeks wyne word almal van organiese druiwe vervaardig. Geen chemiese plaagdoders of onkruiddoders wat deur die EU-sertifiseringsinstansie, Ecocert, verbied word, word in die wingerd gespuit nie. Stellar maak ook op die natuur se natuurlike prosesse staat. In die wingerd maak hulle van Indiese Hardloper-eende gebruik as natuurlike plaagbeheerders. Deur van hierdie organiese beginsels in die boerdery gebruik te maak, word ’n ekosisteem in die wingerd geskep wat selfonderhoudend en selfregulerend is.

Is organiese wyn beter?

Die produksie van organiese wyn is nie net gesonder vir jou liggaam nie, maar dit is ook beter vir die omgewing omdat dit van verantwoordelike boerderymetodes gebruik maak. Omdat geen skadelike chemikalieë in die wingerd gebruik word nie is dit beter vir die gesondheid van alle wingerdwerkers en eienaars. Dit verminder ook enige skadelike besoedeling in die omgewing, bewaar die grond, en beskerm die natuurlike biodiversiteit.

Organiese produksie lewer hoë gehalte druiwe wat balans, rypheid en voedingsinhoud betref. ’n Ander voordeel is dat dit laer sulfaatvlakke as konvensionele wyne bevat, wat beteken dat mense wat allergies is steeds die wyn kan drink.

Organiese wyn is dus die meer afgeronde keuse vir die omgewing, die druiwe, die wingerd, die glas en die verbruiker.

Lee Scott

Ons gesels met Lee Scott oor wat hom gehelp het om gesonde gewoontes te vorm en waarom hy organiese produkte verkies.

Wat beteken ‘gesonde gewoontes’ vir jou?

“Gesonde gewoontes beteken vir my ’n beter en ’n gesonder leefstyl. Wanneer ek ongesond eet kan ek voel hoe my energievlakke minder raak, maar wanneer ek gesond eet het ek meer energie. Ek voel meer positief en dat ek die dag kan aanpak. Ek is ’n persoon wat soveel moontlik wil doen in die lewe en om ’n gesonde leefstyl te handhaaf help my om dit te doen. Ek voel goed oor myself wanneer ek gesonder lewe.”

Wat het jou gehelp om gesonde gewoontes te vorm?

“Dit was bloot net ’n besluit wat ek self geneem het. Ek was konstant moeg gewees en ek het nie selfversekerd in my eie lyf gevoel nie. Ek het dit altyd uitgestel en op ’n dag het ek net begin gesonder leef; begin kyk na wat ek inneem. Die belangrikste is om dit vir jouself te doen en nie vir iemand anders nie. Op die ou end is dit jou lyf, jou lewe, jou gesondheid en dit is die belangrikste.”

Waarom verkies Lee Scott organiese produkte?

“Wel ek is ’n groot aanhanger van enige iets wat ’n beter lewe en ’n gesonder natuur ondersteun. Dis die natuur wat ons voed en gesond hou en met al die chemikalieë wat gebruik word op die kosse wat ons inneem is dit so effens moeiliker. ’n Gesonde natuur beteken ’n gesonder lewe. So dis ’n win-win.”